Cogmanskloofpas opgradering



Cogmanskloofpas opgradering

25 June 2012

Cogmanskloofpas gaan verbeter word
deur Alet Janse van Rensburg - Die Burger

STELLENBOSCH. – Bouwerk aan die Cogmanskloof-pas tussen Ashton en Montagu sal binne die volgende drie jaar begin indien alles volgens plan verloop.
Die nuwe pad sal die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke sowat R80 miljoen uit die sak jaag en sal oor ’n tydperk van 24 maande voltooi word.
“Ons is verheug oor die nuus van ’n verbeterde pad,” het Mareletta van Zyl-Wohlfarter, voorsitter van Montagu-Ashton-toerisme, gesê.
“Die nuwe pad sal nie net meer geleentheid bied vir toeriste om stil te hou en die geskiedenis en natuurskoon te waardeer nie, maar sal ook baie veiliger wees.”
Al-Ameen Kafaar, woordvoerder van die departement, het gesê die laaste paar jaar se vloedskade en ’n toename in verkeer het die departement genoop om die pad te rehabiliteer.
“Die behoefte om die Cogmanskloofpas te herstel is reeds in 2006 vasgestel,” het hy gesê.
“Die bestaande pad is in 1952 gebou en omdat die soort en volume verkeer sedertdien verander het, is dit nodig om die pad aan te pas om dié verkeer te kan hanteer.”
Die departement het Dinsdag die openbare deelnameproses geopen en die plaaslike gemeenskappe genooi om insette te lewer vir moontlike alternatiewe bouplanne om moontlike skade aan die omgewing te beperk.
Benewens die teer van die sowat 11 km tussen die twee dorpe, sal brûe en skoueroppervlaktes ook herstel en sal die pad gelig word op die plekke waar dit tans gereeld oorstroom. Skerp draaie sal ook uitgeskakel word om die pad veiliger te maak.